Stad-in-’n-boks: Pretoria

Die eerste “stad-in-’n-boks” was bedoel as ’n Kerskaartjie 2011. Die belangstelling was egter so oorweldigend dat dit WoW se heel eerste produk geword het. Pretoria – WoW se tuisstad – lê die span natuurlik na aan die hart!

Marguerite het die idée al die pad uit Londen saam gebring nadat sy eenkeer ’n besonderse uitvoukaartjie van Londen by die Tate Modern gekoop het. (Boonop sien sy toe ook ’n soortgelyke kaartjie van die Guggenheim-kunsgallery in New York.)  Sedert ’n projek in haar tweede jaar, eksperimenteer Marguerite met die idee van ‘pop-ups’. Om ’n kaartjie van Pretoria te maak was dus onvermydelik. Dit verwys na van die stad se mees bekende bakens – gekies op sterkte van ons agtergrond, en seker ook ’n bietjie subjektief!

Die mees herkenbare baken is sekerlik die Voortrekkermonument, ingewy in 1949 en opgerig om die Groot Trek (1835-1843) te gedenk.  Die struktuur op die volgende laag van die kaartjie is die reuse hangende walvisskelet voor die Ditsong Nasionale Museum van Natuurgeskiedenis (vantevore die Transvaalmuseum). Wie sou ooit ’n walvisskelet in die Pretoria verwag!  Die standbeeld is van niemand anders nie as Pres. Paul Kruger, en is ontwerp deur die beeldhouer Anton van Wouw. Dit is al sedert 1954 op Kerkplein. Een van die stadskim se sigbaarste bakens is die Telkomtoring teen Lukasrand. Dit staan 157m hoog, is opgerig in 1979 en is om die draai van WoW se konsepfabriek J. Blykbaar is die terrein eens oorweeg vir die Uniegebou – uiteindelik gebou op die volgende koppie ten noorde.

Duidelik sigbaar uit die kaartjie se samestelling is die aard van die stadsomgewing: bakens gebou op heuwels. Pretoria is uitgelê volgens die Romeinse cardo decomanus tussen verskillende, herhalende oos-wes koppies al langs die Apiesrivier. So is Vryheidspark op Salvokop gebou om die verskillende eras in die Suider Afrikaanse geskiedenis te herdenk, maar veral die demokrasie en verering van vryheidsvegters. Die Uniegebou, waarvan die hoeksteen in 1910 gelê is, is op Meintjieskop en is die laaste – en miskien herkenbaarste –baken wat in die kaartjie weergegee word.

Vir die papier uitsnywerk het ons saam met Elonah O’Neil Reid van ilovedetail gewerk.   Haar werk is pragtig en kan gesien word by www.lovedetail.co.za. Van ons produkte sal ook eersdaags by haar aanlynwinkel te koop wees.

PRYS OP AANVRAAG

(LIMITED RANGE)